MISSIE:
Om behoeftige Suid Afrikaners
(i) by te staan,
(ii) op te bou op ekonomiese, maatskaplike en sosiale vlak,
(iii) ekonomies te bemagtig en
(iv) hul menswaardigheid en selfbeeld weer te herstel.
DOELWIT:
ASPERA GEMEENSKAPSONTWIKKELING stel homself ten doel om:
Fase 1
Hulpbehoewende Suid Afrikaners by te staan deur kos, klere en huisvesting aan diesulkes te verskaf. Genoemde hulp aan persone wie as hulpbehoewend geidentifiseer is, word slegs as ʼn interm maatreël beskou, waar die organisasie nie ten doel het om behoeftiges op ʼn permanente basis te onderhou nie, maar om tydelike verligting te verskaf terwyl daar na alternatiewe gesoek word vir diesulkes om hulself te kan onderhou. Duidelike onderskeid moet egter getref word tussen persone wie as gevolg van ouderdom, chroniese siektes, liggaamsgebrek of verstandelike onvermoeë nie in staat is om vir hulself te kan sorg nie. Daar sal egter gepoog word om sulke persone wel op een of ander manier in te span om hul bydrae tot hul gemeenskap te lewer en sodoende van hul eiewaarde bewus te maak.
Fase 2
Hulpbehoewendes op te bou deur middel van aanvanklike finansiële ondersteuning en opleiding om hulself sodoende ekonomies aktief en onafhanklik te kry. Finansiële hulp sal slegs verleen word indien die bestuur van Aspera hulself vergewis het dat sulke hulp eerbaar deur die ontvanger daarvan aangewend sal word. Sodra daar gevind word dat hierdie hulpmiddel deur die ontvanger(s) daarvan misbruik of wanaangewend word, sal alle hulp onmiddelik gestaak word en sal daar, waar prakties moontlik, gepoog word om die fondse wat reeds geskenk mag wees, of ʼn gedeelte daarvan, terug te kry. Finansiële hulp sal ook dan slegs vir ʼn bepaalde tyd voorsien word, waarna daar van die ontvanger(s) van sulke hulp verwag sal word om self te kan voorsien aan hierdie behoeftes. Enige finansiële hulp sal dus slegs ʼn tydelike maatreël wees en die bestuur van Aspera moet oortuig wees dat die fondse produktief aangewend sal word.
Fase 3
Opleiding te verskaf aan hulpbehoewendes sodat hulle nuwe vaardighede en denkpatrone kan aanleer. Vaardighede sluit hier eenvoudige dinge in soos: groente plant, breiwerk doen ens. Klem sal ook gelê word op die feit dat enige persoon deur hierdie nuutaangeleerde vaardighede hul eerste stap na ekonomiese bemagtiging kan neem deurdat produkte en handewerk nie net deur hulself gebruik kan word nie, maar dat dit ook verkoop kan word en sodoende ʼn inkomste te genereer. Fase 3 behels dan ook die sielkundige opbou en bearbeiding van die hulpbehoewendes, sodat hulle kan besef dat hulle nie vir ewig afhanklik van ander se aalmoese kan en moet wees nie.
Fase 4
Verskaffing van behoorlike, professionele opleiding op vakgebiede wat noodsaaklik en gesog is in die arbeidsmag. Waar van toepassing sal dit gewens wees om aan die “student” ʼn erkende sertifikaat te voorsien na suksesvolle voltooiing van opleiding. Kandidate wie belangstel in opleiding, sal eers deeglik ondersoek word om te bepaal dat die persoon wel die aanleg het om ʼn spesifieke veld te betree, asook dat die persoon werklik die wil en motivering het om enige kursus suksesvol te voltooi. Kandidate sal streng gekeur word sodat daar nie geld en tyd gemors word op persone wie nie werklik gemotiveerd is nie. Professionele opleiding hier dek die wydste moontlike veld in vakgebiede (dus enige iets van fietse regmaak tot ingeneurswerke). Sodra kandidate hul kursus suksesvol voltooi het, sal Aspera meehelp om vir die persoon werk te vind, deur daardie persoon se inligting aan gerespekteerde personeelagentskappe deur te gee en op Aspera se openbare databasis te stoor. Daar sal egter van die persoon verwag word om self ook werk te soek. Enige hulp wat op hierdie stadium nog aan persone veskaf mag word, sal dan slegs vir ʼn kort tydjie nog voortduur, aangesien enige persoon teen hierdie tyd onafhanklik behoort te kan wees.
Fase 5
Kandidate wie die nodige potensiaal toon by te staan met die stigting, en bestuur van ʼn eie onderneming. In hierdie fase sal kandidate opgelei word in die goeie en gesonde bestuur van besigheid. Basie boekhouding sal aan diesulkes geleer word, asook goeie en gesonde administrasievaardighede, voorraadbeheer, bemarkingsvaardighede, telefoonetiket ens. Kandidate sal, veral in hierdie stadium, vrylik toegang hê tot kennis, ondervinding en ervaring van sekere suksesvolle sakepersone wie by Aspera betrokke is. Kandidate sal ook geleer en bygestaan word om marknavorsing te doen. Kandidate sal ook geleer word om te “netwerk” en sal op Aspera se databasis geplaas word en self ook toegang tot genoemde databasis verkry. Finansiële hulp sal slegs vir ʼn baie kort tydperk aan hierdie persone verleen word, maar dan ook net onder spesiale omstandighede; dus sal nie almal dit ontvang nie. Enige finansiële hulp wat op hierdie stadium aan die persoon verleen word, moet terugbetaal word en lae rente sal daarop gehef word. Die heffing van rente is nie bedoel om wind te maak of om iemand uit te buit nie, maar slegs ʼn verdere les dat alles ʼn prys het. Daarteenoor kan ons ook die versekering aan ons skenkers gee dat hul skenkings so produktief moontlik aangewend is. Kandidate sal ook geleer word dat dit eerbaar is om ʼn gedeelte van hul inkomste aan te wend om ander, wie in nood is, by te staan. Daar sal van kandidate wie Fase 5 suksesvol deurloop het, verwag word om Aspera vir ʼn tydperk van 2 jaar by te staan, te ondersteun en hulp te voorsien met die opheffing van hulpbehoewendes . Hulp, ondersteuning en bystand kan verskeie vorms aanneem (van persoonlike tyd tot finansiële bydraes) en sal vooraf deur die kandidaat en Aspera ooreengekom word. Sodra ʼn ooreenkoms bereik is, sal daar ʼn wettige kontrak met die persoon of persone aangegaan word.
Groete,
die Aspera span.





